Hallo vriend
Net buite Modimollie (beter bekend as Nylstroom), moet ek uitswaai om die beseerde Nonnietjie-uiltjie, wat met die gebreekte vlerk oor die pad hop, te mis. Met moeite vang ons dogter en ek haar; sy (diè dierbare dingetjie mòèt ń ‘sy’ wees) probeer van ons wegkom. Sy probeer haarself deur ń klein spasie in die draad wurm om in die terrein van die Modimollie gevangenis te gaan wegkruip.
Vriend, hoekom is dit so dat wanneer God vir ons wil ingryp, ons dit as ń bedreiging beskou? Is dit omdat Sy onwrikbare Hand van liefde so onmanipuleerbaar is? Ons weet Hy wil en Hy kan; is dit Sy onvoorspelbare ‘hoe’ wat ons vreesagtig maak?
Ek hou my tweejarige kleinseun dop – in sy verhouding met ons dogter. Sy vind sy morsige avonture snaaks; sy kan nie veel fout vind met wat hy doen nie. Sy droogmaak sien sy as ontwikkeling. Self as sy hom berispe, doen sy dit met trots. Sy’s ń ma; sy ma!
Na willekeur maak hy hom tuis op haar skoot. Hy speel met alles op haar gesig. Hy bewonder haar; ‘my mooie mammie’ sê hy vir haar.
Tog reken die Vader daai verhouding skied tekort; dis nou in vergelyking met Sy liefde vir ons. “Kan ń vrou haar suigeling vergeet …? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer …”
Ek wil so omgaan met die Vader, vriend. Ek wil na willekeur op Sy skoot gaan sit, in Sy oë kyk, Sy liefde indrink, ‘boldness’ indrink, dan daar afspring en wilde dinge gaan doen, deel word van Sy avontuur.
Vanmôre ry ek verby die jong man met die groot kleurvolle plakaat: “Smile, Jesus loves you!”. Ek glimlag eers net, toe lag ek hardop.
ń Wonderlike teenvoeter vir ń swaar gemoed is om vir die persoon by die ’till’ sjokolade te koop. As jy ń baie goeie dag wil hê, koop sommer vir die hele ry. Nadat ek vir een ń pakkie Simba chips koop, sê sy: ‘Nobody has ever done this. I want to cry now’. Vriend, dis ń groot ‘return’ op ń baie klein belegging.
Ek dink ons moet baie kontant met ons saamdra. Die beleggingsgeleenthede is volop, veral hier in Suid-Afrika. Ons moet ruim belê met die geringste aanpor van die Heilige Gees.
Groete vriend!
Gerhard
Related posts:
No related posts.