Ten einde sekerheid hieroor te bekom en my kop skoon te hou het ek gaan duidelikheid kry. Ons word almal gebombardeer met inligting, onder andere via sosiale media, waar mense sê wat hulle wil. Dis ‘n goeie bron, maar ook riskant. Dit verg enorme volwassenheid en media-intelligensie om deur alles te sif en naastenby die korrekte waarde aan al die ‘nuus’ te heg.
Ek het tydens my besoek met baie ‘locals’ (oor die hele spektrum) gepraat. Sonder enige bewyse, is daar enkeles wat sê hulle dink daar was brandstigting – dalk deur opportunistiese kwaaddoeners. Dis sekerlik ‘n moontlikheid. Die mees ingeligte en gebalanseerde persone met wie ek gepraat het, sê egter dat dit nie brandstigting was nie. Polisiemanne op die grond sè ook so. ‘n Persoon met wie ek gepraat het, wat midde-in die chaos was, stem met baie saam dat die brand toegeskryf kan word aan die digte plantegroei, die droogte, die hitte en stormsterk wind: ‘dit was ‘n ongeluk wat gewag het om te gebeur’, sê sy’. Dan is daar die brandweerman wat gesê het dit was ‘an act of God’.
Soos die wind gewaai en van rigting verander, so het huise van die brand ontsnap en ander nie. Die wind het in oomblikke van rigting verander, huise in die proses gespaar, ander juis daardeur vernietig.
Daar is huise wat in digte bosse staan, en van die vuur ontsnap het, terwyl ander in minder digte areas nie van die vuur ontsnap het nie? Dis maar soos die wind gewaai het: “die wind waai (mos) waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom of waarheen hy gaan nie”.
Ek loop daar in ‘n ‘estate’ vir Elroy, sy vrou Annelie en Wayne raak.
Hulle is besig om skoon te maak. Daar’s 22 huise, 3 het afgebrand. Dis ‘n wonderwerk dat al die huise nie afgebrand het nie.
Annelie sê dis die Here se genade dat die huis waar haar man een dag per week werk nie afgebrand het nie. Daai een dag per week is hulle gesin se enigste inkomste. ‘Dis die Here se favour’, sê sy. Is die eienaars van die huis gelowig, vra ek haar. Nee, sê sy, ‘maar dis die Here se favour op ons wat verhoed het dat die huis nie afgebrand het nie. As die huis afgebrand het, sou Elroy sy een dag werk verloor het. Nou, na die brand, werk Elroy vyf dae per week”. Dis mos hoe die Here werk, sê Annelie – “verkeerd om; reg om”. “Verstaan meneer?”.
Sy sê ek moet gaan kyk hoe Wayne, wat daar by ons staan, ‘n huis gered het. Wayne het sommer net kom help. Met sy t-shirt oor sy mond het hy die vlamme geveg.
In Knysna praat ek met ‘n man met twee eiendomme teenaan mekaar. Hy wys my die plek waar die vlamme aan sy huis ‘gelek’ het, maar in die proses ‘n gaatjie in ‘n plastiese waterpyp gebrand het
en die watersprei gevolglik die brand gestop het. “It’s the power of prayer”, sê hy.
Byna 500 huise het afgebrand. Dat die hele dorp nie afgebrand het nie, is ‘n wonderwerk.
Diè persoon gee erkenning waar dit hoort.
Hier het alles afgebrand.
Hierdie outjies het dit oorleef.
Die ko-ordineerder van een van die noodlenigingsprojekte het die nag toe die brand haar buurt bedreig het, saam met haar ma en kind in haar motor deurgebring. Sy het nie versekering op haar huis nie – kan dit nie bekostig nie. Sy kon op ‘n afstand die vuur dophou, sien hoe dit sy pad van verwoesting loop – sy het egter nie geweet of haar huis brand of nie. Sy het gebid en probeer slaap, want die volgende oggend moes sy werk. Eers die volgende oggend kon sy vasstel dat haar huis die brand ontsnap het. Die simptome van trauma lê vlak as sy my van haar ervaring vertel.
Meer klere is geskenk as wat ooit gebruik kan word. ‘Klerebanke’ in Knysna en omliggende dorpe word op die been gebring. Vrywilligers sorteer die klere sorgvuldig; elke item word met respek en dankbaarheid hanteer.
Van die meer welgestelde mense wat als verloor het, is skaam om vir klere en hulp te vra – vir nou. Duisende ‘locals’ wat nie skade in die brand gelei het nie, staan egter tou vir klere. Hulle ‘skade’ kom oor ‘n lang tyd en vir ‘n ander rede – sekere skades is ‘self-inflicted’, ander nie. Dis moeilik om te onderskei. Die situasie is polities sensitief, maar word goed bestuur – deur ‘gewone’ mense – die sout van die aarde.
In die hoofstraat van Knysna gaan die lewe aan asof niks gebeur het nie – op die oog af ten minste. By enkele huise wat tot op die grond afgebrand het is daar reeds aktiwiteite aan die gang om weer te herbou en te ‘bou’. Knysna gaan nie lê nie – die lewe gaan aan. Nie lank van nou af sal daar net stories oor die groot brand wees.
Die bome in die plantasies wat gebrand het, word afgesaag. Baie van die hout kan nog gebruik word, maar moet dadelik afgesaag en geprosseseer word. Tien jaar se boomslopings, saagwerk en verwerking moet nou in drie maande geskied, sê ‘n bosbouer vir my. ‘n Ander bosbouer sê dit moet in tien maande geskied.
Daar’s baie skade; maar daar’s ook nou baie werk. Dis verseker vir baie ‘n enorme persoonlike verlies. Baie het op materiële terrein ‘als’ verloor. Baie is reeds baie sterker – waar dit tel – hulle weet dit dalk nog nie. Alles werk mos ten goede mee.
Die ervaring is pynlik; selfs vir my wat net daar deur stap. Dit gee perspektief; dit maak my kriewelrig. Of jy nou Kaap toe of Australië toe trek, gevaar – in onverwagte vorme – is altyd daar. Die klein gevaartjies het ons leer bestuur; die grotes is totaal buite ons beheer. Alle mense word een of ander tyd daaraan blootgestel, ongeag waar jy jou bevind (jou ligging)
of jou materiële welstand – jy sal dit nie ontsnap nie. God sal jou nooit los nie.
“Verkeerd om; reg om”.
Gerhard Papenfus