‘UNICYCLE’ RY HIER IN SUID-AFRIKA
Die jongman in die foto het in 2015 die 94.7 fietswedren op ń ‘unicycle’ voltooi – dis ń fiets met net een wiel, sonder handvatsels.
Om te leer fietsry vra deursettingsvermoë – jy moet vrede daarmee maak om op te klim en af te val; sommige meer as ander. As jy egter aanhou probeer, sal jy dit regkry.
Om ń ‘unicycle’ te ry vra al hierdie ‘leer fietsry eienskappe’, net baie, baie meer daarvan. Met ń ‘aanhouer-wen’ gesindheid sal enige persoon dit kan doen. Net ‘een uit ń duisend’ bemeester dit egter; dis hulle wat wíl, en dan aanhou probeer, totdat hulle dit regkry.
‘Unicycle’ ry verg van jou om aan te hou trap; opdraende en afdraende, sonder stop; as jy stop, val jy af. Dis die vorentoe-balans wat jou op die fiets hou. Daar’s ook nie ruimte vir ‘free’ nie – jy moet aanhou trap.
Die vooruitsigte van vanselfsprekende gemak in Suid-Afrika is stadig maar seker besig om voor ons te verdwyn – hier in ons koppe. Die spasie vir ‘free’ word minder; die twee wiele en die handvatsels word stadigaan weggevat – so sê hulle. Dis nog nie weg nie, maar hulle sê dit gaan weggevat word. Ons laat mos toe dat ons denke beïnvloed word deur hulle wie se bestaan op die sienlike berus. Dan word ons bang en dit maak ons bene lam en dit maak dat ons ophou trap – en dan val ons af.
Hy, die Almagtige, wat vir niks skrik en vir wie niks onmoontlik is nie – NIKS nie – Hy sê dat die regverdige – dis die een wat in Jesus glo en Sy verdienste sy eie gemaak het – deur geloof allèèn lewe. Hy sê dat om deur geloof te lewe – geloof wat nie net praat nie, maar doen – geloof wat aanhou trap – die enigste manier van ‘leef’ is.
Hy sê dat om te vertrou op die goed wat ons sien, die goed wat ‘mot en roes verniel’, waar jy jou ookal op aarde bevind, en gevat word deur diewe wat inbreek en steel, op sommige plekke meer as ander, nie ‘lewe’ is nie – dis gewaarborgde onsekerheid – altyd onseker. Jy wil meer hê om die onsekerheid te onderdruk, maar hoe meer jy het, hoe meer onseker word jy.
Net in geloof is daar sekerheid, sê Hy, maar dan moet jy nie terugdeins en ophou trap nie, want dan val jy af – en dan het Hy geen behae in jou nie. (Heb 10:38)
Hierdie ‘anderste’ Suid-Afrika bied aan ons die geleentheid om, stroom-op, teen die gety van negatiwiteit, teen verdoemende gerugte, selfs teen die klaarblyklike verdoemende bewyse, met een wiel sonder handvatsels, aan te hou trap – vorentoe.
Gerhard Papenfus
8/4/19