24/7 National Hotline: 0860 163 272 info@neasa.co.za

Hallo vriend

Gedurende die afgelope week stap ek iewers by ‘n winkelsentrum in.

By die ingang sit daar ‘n man. Hy is gestremd. By hom is ‘n metaalhouer waarin mense ‘n geldjie kan ingooi, ek vermoed vir die instelling waar hy versorg word.

Ek gaan staan daar by hom en maak ‘n beskeie bydrae. Dan praat hy met my, sy spraak is aangetas, sy tande is in ‘n toestand, verrot, dele ontbreek: ‘Ek was in ‘n groot ongeluk. Ek was nie veronderstel om te lewe nie. Maar ek het Jesus gesien’.

‘Jy weet meneer’, gaan hy voort, ‘niemand kan Jesus sien en lewe nie. Maar ek het hom gesien, en daarom lewe ek. Toe ek hom sien, was my oë so groot soos daai goed’. Ek sien hy kyk na twee kinderstoeltjies wat gemonteer is op twee kruidenierstrollies wat daar naby staan. ‘Hy het sulke BLÒÙ oë. WAT Ń MÀN IS HY NIE? WAT Ń MÀN IS HY NIE?’

‘Oom’, vra ek hom net om seker te maak ek het reg gehoor’, ‘het oom gesê WAT Ń MAN IS HY? Het ek oom reg gehoor?’ Hy antwoord weer: ‘WAT Ń MÀN HY NIE? WAT Ń MÀN IS HY NIE?’

Dit herinner my aan ‘n ervaring wat my oorlede pa jare gelede met my gedeel het. My pa was die mees kontroversieële, omgekrapte, stroomop karakter wat ek vir jare geken het. Waar hy naby was kon niemand heeltemal op sy gemak wees nie. Maar Hy het iets van God se genade verstaan. Ek onthou hoedat hy op sy manier die note van die klavier hard slaan, terwyl hy hardop sing, nee, eerder uitroep, ‘ek vernaamste sondaarskind, sal in Jesus redding vind!’

Die pa van my het my eendag eenkant toe geroep. Hy wou iets met my deel, maar eers nadat ek aan hom die onderneming gegee het dat ek dit nie sal oorvertel nie. Terloops, ek het nie by die onderneming gebly nie.

Hy vertel my toe dat hy ‘n paar dae vantevore die Here gesien het. Hy vertel dat hy gestap het na die voordeur van die Vrystaat Koöperasie in Bethlehem in die Vrystaat, toe ‘n man van voor af na hom aangestap gekom. Hy vertel my dat hy nog nooit so MAN in sy lewe gesien het nie. Toe die man by hom kom sê hy vir my pa: ‘Ek ken jou naam’. Toe my pa egter vassteek en omdraai om diè MAN te groet, toe is hy weg.

Gedurende my pa se laaste dae, sterwend van die verwoestende effek van Alzheimers, kon ek in sy oë iets van daai MAN sien.

So paar weke gelede het ek die voorreg gehad om aan diè MAN te raak. Ek het teruggestap na my hotel toe nadat ek ‘n Portfolio Komitee in die Parlement toegespreek het. Ek was nie opgewonde oor diè ervaring nie; so stuk leegheid het oor my gesak.

Terwyl ek stap hoor ek pragtige, robuuste, oorverdowende ‘gospel’ musiek. Ek stop om te luister. Ek het eers gedink dis ‘n ‘live band’. Dan sien ek die groot luidsprekers in die ingang van ‘n klerewinkel staan; die klippe verkondig die eer van God. Terwyl ek nog daar staan kom daar ‘n baie arm man na my toe. Ek kan nie eintlik hoor wat hy sê nie, maar ek hoor genoeg om te verstaan dat hy geld nodig het; ek hoor iets van die Oos Kaap en God. Ek gee hom ‘n paar rand, maar dan nog heelwat meer toe ek die stem van die Here ‘hoor’- mens ‘hoor’ mos nie die Here; jy ‘weet’ die stem van die Here.

Sy dankie sê is ‘n vuis wat hy uitsteek. Ek raak met my vuis teen syne uit erkenning van sy dankie. Hy weet hy’s te vuil om aan gevat te word. Dan stap hy weg. Toe hy so paar tree van my af weg is, hou die musiek skielik op, hy draai om na my en sê vir my: ‘The road is open before you’. WAT Ń MÀN IS HY NIE? Die agterstevoor-om God. Ons ontdek Hom op die mees onwaarskynlikste plekke; ontmoet Hom in die mees onwaarskynlike karakters. Dankie tog dis so.

Iemand sê dat die grootste rykdom lê weggesteek in die sakke van straatkinders.

Net gister beleef ek iets van daardie MAN. Ek lê op die bank terwyl my kleinkinders om my speel. My kleinseun Joshua pak sy karre, sy ‘rrrr-y’, op my, hy rrrr-y op my, oor my, dan klim hy bo-op my terwyl ek keer met my arm dat hy nie afval nie (hy’s onbewus daarvan). Hy gebruik my. Terwyl hy op my trap en druk, sy karre slordig en sonder begrip van enige ongemak op my rondstoot, beleef ek die hoogtepunt van vreugde. Dit kom nie beter as dit nie; en dis maar net een miljoenste van die hart van daai MAN. As julle dan wat sleg is …., hoeveel te meer?

Daai MAN sê, as ons die volheid van lewe wil ervaar, dan moet ons soos kindertjies word; ons moet hom gebruik – mag mens so sê vriend? Ons moet ons karre rondstoot terwyl ons op Sy skoot sit. Ons moet dinamies met die ongeestelike alledaagse omgaan, by Hom. Hy stuur ons nie weg om elders volwasse te gaan wees nie; Hy wil saam uitdagings toe, teenaan ons.

Groete vriend

Gerhard